Jou Kind se Brein kan ook Dwarsdeur Somme Kyk


In my jarelange strewe om 'n vak soos wiskunde toeganklik vir kinders te maak, het ek dikwels op juweeltjies afgekom wat die wêreld se verskil maak. “Moeilike” somme word maklik wanneer die brein in plaas van die oë daarna kyk. Ek deel graag een van hierdie juweeltjies.

Kinders sukkel met wiskunde omdat die klem op insette geplaas word in plaas van op die brein se denkvermoë. In wiskunde ontvang kinders se breine insette in die vorm van

prente/sketse, geskrewe teks of klank via onderwysers en handboeke en dan gebeur dit soos wat die spreekwoord sê: “Dit gaan by die een oor in en die ander oor uit.”

Ons het almal tafels geleer dat die biesies bewe. Tóg kon jy dit nie vinnig herroep nie. Dit bewys die ure en ure wat spandeer is om met jou oë te memoriseer, nie die tafels in die brein vasgelê het nie. Iets wat in die brein gevestig is kan tog nie sommer nét so verdwyn nie.

Vir dekades is geglo dat as jy visueel leer, prentjies in jou brein vasgelê word. Dit is nie waar nie. Eerstens, kyk na enige voorwerp, wat spring in jou brein, die prentjie of 'n woord? Tweedens, wanneer jy die woord ‘stoel’ hoor, wat sien jy in jou geestesoog, die woord stoel of 'n prentjie? Jy het pas bewys die brein verander prentjies in woorde en woorde in prentjies. Jy mag visuele of ouditiewe voorkeure hê, maar jou brein kan nie agterna onderskei of die inligting visueel of ouditief ingekom het nie. Dit is omdat die brein net kan werk met konsepte of idees wat heeltyd groepeer en rangskik word.

Wanneer die brein dink (werkwoord), verbind breinselle chemies om denkkonstruksies te vorm – kom ons noem dit 'n ”dunk” wat die selfstandige naamwoord is vir iets wat uitgedink is. As jy jou kind se dunk kan sien, weet jy presies wat jou kind weet of nie weet nie. Om kinders te kry om hulle dunke vir jou te wys, is moontlik en maklik.

Op 'n praktiese noot, wanneer kinders meetkunde- en trigonometrie-somme aanpak, begin hulle gewoonlik om die inset of skets met hul oë te analiseer met die hoop dat antwoorde daaruit sal spring. Die brein is egter in 'n hoek vaskeer omdat hy nie woorde het nie. Hulle brein se ratte moet deur die onderwyser verander word sodat hulle met

woorde kan begin. Waar kry hulle die woorde? Dit is die woorde in die sinne van die som wat hulle moet gebruik om 'n stel dunk-oë te skep waarmee die skets geanaliseer

kan word om die som se antwoord mee uit te rol.

Met tafels werk dit andersom. 7 x 8 = 56 is woorde waarvoor die brein nie prentjies het nie. Met gepaste onderrig moet kinders self ontdek dat die berekening van ppervlaktes

van reghoeke en vierkante inderwaarheid vermenigvuldigsomme se prentjies is. Hierdie dunk is die brein se stel oë om te sien dat vir die getal 12 drie reghoeke getrek kan word. Met hierdie benadering kan kinders reeds in graad 3 agterkom dat 1, 4, 9, 16, ‘anders’ is as die ander getalle. Dit lê breinbane neer vir vierkantsgetalle en vierkantwortels in hoër grade. Elke dunk-konstruksie wat geskep word, is 'n sukses vir die brein wat hand aan hand gaan met die afskeiding van die ‘goedvoel’-hormoon endorfien wat bydra by om kinders leergierige, gemotiveerde selfregulerende leerders te maak.

Hierdie benadering strook met Albert Einstein se standpunt dat 'n probleem nie opgelos kan word in dieselde wyse van dink as waarin die probleem ontstaan het nie.

Open chat
Send a message to learn how Thinking Tools can benefit you.